Oorsprong van musiek

"Dawid met sy harp" deur Paris Psalter in ongeveer 960, Konstantinopel

Daar bestaan baie teorieë oor die oorsprong van musiek. Só word daar in volksverhale, mites en sages van die volkere vertel van die bo-aardse, goddelike oorsprong van musiek, en dikwels het die musiek in hierdie verhale een of ander towerkrag. Musiekwetenskaplikes probeer die ontstaan van musiek verklaar deur byvoorbeeld te sê dat die oermens mooi dieregeluide probeer naboots het. Dit is egter alles teorieë wat nie bewys kan word nie.

Musiek is klank en verdwyn weer sodra dit gemaak is. Daarom bestaan ons kennis oor die musiek van die tyd voor die koms van die grammofoon uit die feite wat in beeld en op skrif aan ons oorgelewer is. Musiek wat in musieknotasie vasgehou is, kan ons ook alleen dán weer in klank laat herleef as ons die ou notasietekens kan lees. Ons weet dan ook relatief min oor die musiek van die ou beskawings van die Antieke of Oudheid. In elk geval sal ons nooit presies kan weet hoe dit geklink het nie. Historiese- en veral argeologiese navorsing het interessante feite aan die lig gebring oor die musiek en veral die musiekbeoefening van die ou kulture, byvoorbeeld China, Egipte, Mesopotamië, en Israel. Oor laasgenoemde kan ook heelwat aanduidings uit die Bybel gekry word.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne